Terugvoer
Uitgawe 22
Jonk en Oud Span Saam
Op Maandagoggend, 3 Desember, het ’n baie opgewonde groep meisies van Parktown Hoër Meisieskool in die eetsaal van die Mobiele Etes vir Bejaardes-tak in Rifle Range-weg, Johannesburg, bymekaargekom. Met voorskote om die middel vasgemaak, was hulle gereed vir tien uur se gemeenskapsdiens. Vandag was ’n baie spesiale dag — Kersgeskenkpakkiedag.
|
|
|
Die span van Parktown Girl's High |
Die bestelwa was volgepak met kartonne vol lekkernye vir Kersfees. Die meisies het saam met die bestuurders en die "hoppers" in die motors geklim en is daar weg.
Terwyl die meisies aan die deure geklop het, het Senior Burgers oopgemaak en met trane van dankbaarheid en innige drukkies die geskenkpakkies ontvang. Die leerders is by baie huise binnegenooi om ’n bietjie te sit en gesels terwyl verversings bedien word. Dit spreek vanself dat kontak met hierdie lewenslustige jongmense baie betekenisvol vir ons "ou vriende" was.
Ons het aan die deur van een gryskopdame geklop. Sy het ons bedank vir die geskenkpakkie en ons toe gewys dat sy geen kos in haar huis gehad het nie, nie eers ’n snytjie brood nie. Sy het ’n rasende honger gehad. Die meisies het onmiddellik ’n maaltyd begin berei — hulle eerste "mobiele ete." Trane het gevloei terwyl die liewe ou vroutjie die leerders bedank en waardering teenoor die Mobiele Etes-vrywilligers en -ondersteuners uitspreek.
|
|
|
Die Kerspakkie span vat 'n blaaskansie gedurende die dag se besig skedule |
Hoe verder die meisies van huis tot huis gegaan het, hoe stiller en gedempter het hulle geword. Nog nooit tevore het hulle sulke armoede en behoefte ondervind nie — behoefte aan basiese noodsaaklikhede en liefde. Aan die einde van die dag het almal gevra of hulle volgende jaar weer ’n Mobiele Etes-aflewering kan meemaak as deel van hulle gemeenskapsdiensprojek.
Danksy u, verander Mobiele Etes die lewens van jonk en oud.
Stof tot Nadenke
¤ “Die mond van ’n bejaarde man is sonder tande, maar nooit sonder woorde van wysheid nie.”
¤ Oos, wes, tuis bes . . . behalwe Ouma se huis!
¤ As ek geweet het dat kleinkinders soveel pret is, sou ek hulle eerste gehad het!
¤ Kinders het nog nooit baie goed na hulle ouers geluister nie, maar hulle het nog nooit versuim om hulle na te boots nie. — James Baldwin
¤ ’n Ouma is ’n kroostrooster wat na die kleingoed kyk in plaas van na die televisie.
¤ "’n Dorp sonder bejaardes is soos ’n put sonder water." — Nylspreekwoord
¤ "As jy baie besit, gee van jou besittings; as jy min het, gee van jou hart." — Nylspreekwoord
¤ "Jeugdiges praat eers en luister dan; die bejaarde luister en praat dan." — Nylspreekwoord
Nuttige Webtuistes
|
|
Oefening vir die
Bejaardes
Voel u ooit dat u u fiksheid moet verbeter? Hierdie webtuiste bespreek
verskeie oefeninge wat gebruik kan word deur diegene wat ouer word. Daar is
talle eenvoudige idees oor hoe om gesond te bly, hoe om reg te eet en hoe om
siekte te vermy.
www.exercise.about.com/cs/exseniors
Veiligheidswenke vir die Huis
Veiligheid by die huis is ’n baie belangrike saak. Hierdie webtuiste is
daarop gerig om die huisomgewing veiliger te maak. Dit gee ook nuttige wenke om
alledaagse probleme in en rondom die huis op te los.
www.knowledgehound.com/topics/homefami.htm
Smaaklike Vegetariese Resepte
Gesondheidsredes, ekonomiese redes en estetiese redes oorreed meer en meer
mense om meer vegetariese kos by hulle dieët in te sluit. Hierdie webtuiste
sluit baie smaaklike vegetariese resepte in, en talle idees oor hoe jy jou
vegetariese maaltye so smaaklik en so opwindend soos enige kan maak.
www.knowledgehound.com/topics/vegetarr.htm
Bekamp Mishandeling van Bejaardes
Mishandeling van die bejaardes kom ontstellend algemeen voor. Die doel van
hierdie webtuiste is om mishandeling van bejaardes te bekamp. Dit bespreek
tekens wat mishandeling verklap, en voorsien ook kontakbesonderhede ingeval u
vermoed dat iemand mishandel word.
www.focusonelderabuse.com/
Gesinsake
As u in enige onderwerp met betrekking tot die gesin belangstel, is dit die
webtuiste om te besoek. Dit sluit idees in oor hoe om die kinders gedurende die
vakansies besig te hou, verskeie omstrede knelpunte, en baie meer.
www.family.org
|
"Today is a gift that's why it's called the present."
|
Om Weer Vreugde In
Kersfees Te Plaas
Die geskaterlag van kinders kon gehoor word. ’n Atmosfeer van blydskap het die byeenkoms op die grasperk gekenmerk. Die tafels was oorlaai met kos en lekkernye. Opgewekte musiek kon van binne gehoor word. . . . Van oorkant die straat het mev. O., ’n eensame gryskopdame van drie en tagtig, van agter halfoop gordyne dopgehou . . . maar haar gedagtes was ver daarvandaan — verlore in herinneringe aan gelukkige dae — herinneringe aan gelukkige Kersgetye wat sy saam met haar eie gesin deurgebring het. En hier was sy . . . alleen . . . met bloedweinig meer as ’n eenvoudige maaltyd van blikkieskos en brood om na uit te sien.
Mev. O se ondervinding is tipies van duisende Senior Burgers. . . . Maar ’n wonderlike groep mense maak ’n reuseverskil. . . .
|
|
|
Die feestelike tafels by die Alberton Kerfunksie |
Danksy u, ons lojale
ondersteuners, is meer as 20 000 Senior Burgers hierdie afgelope Kersfees by
meer as 80 spesiale Kersgeleenthede oor die hele land onthaal. Behalwe die
feestelike ete en spesiale vermaaklikheid, kon ons ou vriende in gemeenskaplike
belange deel en nuwe vriende maak. Vir diegene wat om die een of ander rede nie
die geleenthede kon bywoon nie, is spesiale Kersgeskenkpakkies by hulle huise
afgelewer deur vriende wat omgee.
Woorde van bedanking en lof was daar baie by elke geleentheid en by elke huis,
en dit moet ons aan u oordra, want in werklikheid was dit u wat vir meer as
twintig duisend Senior Burgers die verskil gemaak het.
Hoe sê mens twintig duisend keer dankie?
Huishoudelike Wenke
Kring om die Kraag
Vuil kringe om hempboordjies of bloeskragies kan verwyder word deur ’n
bietjie sjampoe te gebruik. Vryf die sjampoe in soos jy jou hare sal was.
Sjampoe is spesifiek gemaak om liggaamsolies te verwyder. ’n Goedkoop bottel
sjampoe wat by die wasmasjien gehou word, is handig vir alle soorte vlekke aan
klere. Moenie hierdie geheim vergeet wanneer jy op reis is nie.
Afstofwenk
Gebruik verfkwasse om in krakies en moeilik bereikbare plekke in telefone,
stereo's, ens. af te stof.
Maak ’n Skedule
Ruim ’n gereelde tydjie elke week in vir die gesin om die huis aan die kant
te maak. Dit leer die kinders goeie gewoontes en gee die gesin ’n projek om saam
te verrig. As ‘n aansporing bedien U gesin se geliefkoosde dis vir ete, wanneer
die take verrig is.
Verwydering van Kerswas van Mure
Kerswas kan met ’n strykyster en snesies van mure of ander oppervlakke
verwyder word. Hou die snesie oor die kerswas en stryk liggies. Wanneer die was
deursypel of die snesie begin bruin word, gebruik ’n nuwe snesie.
Verwydering van Bloedvlekke
Mielieblom kan bloedvlekke verwyder. Spoel die vlek in koue water, vryf dan
klam mielieblom in. Plaas die item in die son.
Straatpensionaris te Hulp Gesnel
Mev. J. is in haar laat tagtigerjare. Sy is gedeeltelik blind en loop baie moeilik. Toe sy dit te moeilik vind om haar eie huis in stand te hou, het haar kinders besluit om in die huis by haar in te trek.
Alles het goed gegaan tot dit weer vakansie was. Die kinders het see toe vertrek, die voorhek gesluit en mev. J. in die huis gelos — sonder enige kos of kontak met die buitewêreld. (Kan jy dit glo?)
Toe die kinders van vakansie terugkom, het ’n rusie ontstaan, en hulle het mev. J. en al haar besittings op die straat uitgesit.
Die bure het haar jammer gekry en haar in ’n buitegebou gehuisves. Die bure het ook mev. J. se benarde toestand onder die aandag van die plaaslike Mobiele Etes-tak gebring.
Die vrywilligers van Mobiele Etes lewer nou maaltye by haar snoesige nuwe huisie af. En soos sy sê, "ek het alles wat my hart begeer — behalwe die liefde van my kinders."
Mev. J. geniet die besoeke van ons "hoppers" terdeë en sy is ’n groot bron van bemoediging vir die vrywillige helpers wat elke week inloer om te gesels. Sy is baie dankbaar vir die liefde en ondersteuning wat sy ontvang.
Ons spesiale dank aan u wat dit vir Mobiele Etes moontlik maak om vir mense soos mev. J. te sorg.
Takprofiel
Alberton Mobiele Etes
Ons het onlangs die plaaslike direktrise van die Albertontak, mev. Zerie Wessels, besoek en ’n paar vrae aan haar gestel oor die werk wat haar tak in die plaaslike gemeenskap doen.
Vir hoeveel Senior Burgers gee
julle kos?
Ons verskaf daagliks 60 maaltye. Op klubdae, wanneer die meeste van die
Seniors na die sentrum kom om mekaar se geselskap te geniet, bedien ons nagenoeg
100 persone.
Waar kry julle die bestanddele vir julle etes?
Die meeste van die bestanddele vir die etes word op die mark gekoop. Een van
ons vrywilligers gaan 05:00 mark toe om produkte teen die billikste pryse te
koop. Op 9 Oktober 2001 het ons ons eerste donasie van vars groente van die
plaaslike mark ontvang. Dit het geweldig baie gehelp.
|
|
|
Heerlike kos word voorberei vir aflewering |
Wie kook en lewer die kos af?
Die meeste van die werk word deur vrywillige helpers gedoen. In ons geval
help die inwoners van die dienssentrum ook om die kos te kook. Ons het ook twee
personeellede wat met die opskep en aflewering help. Die gebied wat ons dek, is
baie groot. Aangesien ons net een voertuig het, vat dit baie lank om elke dag
ons aflewerings te doen. (Wat ’n lieflike gedagte — ou vriende by ’n
dienssentrum wat etes berei vir ou vriende in die gemeenskap wat swaar kry — wat
mekaar miskien nooit sal ontmoet nie)
Is daar enige spesiale verhale
wat u met ons kan deel?
Mnr. G. is 45 en is verstandelik gestrem. Sedert sy ma 15 jaar gelede
oorlede is, woon hy in ’n huisie naby ons dienssentrum. Hy verdien nagenoeg R1
000 per maand deur in ’n naburige fabriek te werk. Sy huis is absoluut netjies.
Hy het Ria, een van ons administratiewe personeel, as sy surrogaatmoeder
aangeneem. Wanneer hy eensaam voel, loer hy in om te gesels en wys dan na die
traanmerke aan sy wange terwyl hy vertel hoe hartseer hy voel. Na ’n soentjie op
die wang en ’n innige drukkie is hy tevrede en eers dan sal hy loop — ’n
gelukkige man. Mnr. G. hou daarvan om by die personeel te kuier en geniet die
etes baie.
Wat is u dringendste behoeftes
op die oomblik?
Ons het ’n nuwe rekenaar dringend nodig om die administratiewe sy van ons
werk te behartig. Die rekenaar wat ons op die oomblik het, is baie oud, uiters
stadig en werk glad nie goed nie. ’n Nuwe rekenaar sal beslis ons werk baie
vergemaklik.
Wat is u planne vir die
toekoms?
Gedurende hierdie nuwe jaar is ons voornemens om ons dienste uit te brei met
die oog op meer hulp aan die gemeenskap wat ons dien. Een van ons planne is ’n
pasiëntherstelsaal — waar pasiënte wat uit die hospitaal ontslaan word ’n paar
dae kan deurbring terwyl hulle rus en aansterk.
Wil u ’n boodskap aan ons
ondersteuners stuur?
Ons hartlike dank gaan aan ons ondersteuners. Hulle finansiële ondersteuning
motiveer ons om nog meer vir die Senior Burgers te doen wat ons hulp nodig het.
Dis so ’n riem onder die hart om te besef dat daar iewers mense is wat in ons
werk belangstel. Baie dankie.
Ons besoek aan Alberton het wonderlik aan ons verwagtinge beantwoord. Ons het die tak verlaat en goed gevoel in die wete dat Mobiele Etes ’n verskil maak in die lewens van die bejaarde mense rondom hulle.
|
A National Welfare
Organization Registered With |